top of page
35935185_10215976716112082_1030945485667

Estian se Storie

Ek en Anli het mekaar op laerskool leer ken, maar ek kan nie spesifiek onthou waar ons avontuur begin het nie. Dit was dalk ’n voortrekker kamp, 'n klas, of ’n vashardloop op die rugbyveld. Anli met haar donkerkop het jong Es aan avontuur laat dink. As ’n jong seun, wie se belangstelling in liefde en dames ver van ontwikkel was, was daar steeds ’n aantrekking na Anli. Dit is dalk die jeug wat veroorsaak het dat die meeste interaksie tussen ons net maat-afgelewerde-briefies was. Na ’n aaklige inskrywing in haar jaarboek het ons wandelpaaie geskei vir die enigste hoofstuk van ons lewens.


Hoërskool en universiteit, wat Es die persoon gemaak het wie julle nou verdra, het gekom en gegaan. Ek het my ouers, met toestemming, aan fokofpolisiekar (fokofpolisiemotor vir die sensitiewe lesers) gaan voorstel waar ek weer die avontuur van my jeug teëgekom het. Tussen die musikante, met ’n kamera in haar hand, het Anli gemaklik op die verhoog tussen die sterre van ons taal haar ding gedoen. As ek nou terug dink aan die dag voel dit asof die son mooier geskyn het. Die dag het nie uitgedraai soos die sprokiesverhaal waaraan ons so gereeld blootgestel word nie. Tegnologie moes inspring om die dag te red.

​

Anli het die video op sosiale media gedeel. Dit was my geleentheid om uit te reik na haar toe. Anli het my genooi vir ’n Vrydag bier na ’n paar weke van ’n reeks boodskappe wat te lank was vir meeste van die 'apps' wat deel van ons alledaagse lewe is. Anli het gewaarsku dat daar ’n verjaarsdag is, maar ek het gesukkel om die leidrade te volg en die gevolgtrekking te maak dat dit haar verjaarsdag was. Hierdie is iets wat ek nie toegelaat word om te vergeet nie. Dit was hierdie einste aand wat die begin was van ons avontuur en hierdie een kan ek spesifiek onthou.

ONS STORIE: Our Story
Anli B&W.jpg

Anli se Storie

'n Kind se hart weet hoe om lief te hê voordat liefde sin maak. 'n Kind se hart weet wat liefde is voordat liefde meer as net geheime briefies, Nokia SMS'e, en grappies in Juffrou Butler se Afrikaanse klas beteken.

Estian was my kinderlike hart se gunsteling plek. My pienk graad 7 'Diary' (met 'n baie definitiewe slot) vertel van die eertse keer toe Es my geSMS het op my ma se Nokia en toe hy my in die swembad gegooi het op lentedag. 

My drome was op pad om waar te word totdat Es se vriend besluit het om my te vra om sy Graad-7 meisie te wees. Es se liefde vir sy vriend (dit is wat ek vir myself sê), het gevolg na ons laaste geheime briefe: 'Anli, die beste man het gewen'. Ek het net daarna in 'n doringboom vasgeloop omdat ek nie deur my 13-jarige-trane kon sien nie. 

Sy laaste brief, voor ons na verskillende hoërskole is, het aan my gelees: 'Anli, geniet 'Grasfontein' (dit was obviously vir hom baie snaaks). Bel my. 0721444647. 


14 Jaar later, die 1ste Junie 2017, is dit presies dieselfde nommer wat verskyn - hierdie keer op my eie iPhone.

'Grasfontein' kon duidelik hom nie weg hou nie. Ek het ook baie vinnig besef sy sin vir humor is nog presies dieselfde as in Juffrou Butler se Afrikaanse klas.

Twee weke van baie laat aande, te veel wyn drink op 'skoolaande', kosmaak, harde musiek, en op Chivas (RIP) se stoep gesels tot 6uur in die oggend, het hy my na 14 jaar UITEINDELIK die kys gevra.


1 Junie 2019 vra hy my om sy vroutjie te word en my hart verstaan vir die eerste keer weer wat liefde is.

My hart het weer sy gunsteling plek gevind en hierdie keer is dit vir ewig.

Vandag sien ek kans om in enige doringboom vas te loop, want ek weet Es is langs my (en hy lag óf hy het ook in die boom vasgeloop).


Goeie hemel. Die (regte) beste man het uiteindelik gewen!

ONS STORIE: Our Story
22791755_10155897732086584_6377373837637

Ons Storie

Estian het die eerste keer vir Anli en Dina (die liefste Great Dane), by hulle plaashuis gaan kuier met 'n bottel HPF Kleinboet onder die arm. Es het onverwags betyds daar aangekom en Anli moes baie vinnig Dina se landmyne oor die bure se heining gooi omdat sy nie verder tyd gehad het om die tuin skoon te maak nie (die bure het nie honde gehad nie). Es was baie vinnig verwelkom in Anli en Dina se spasie - soveel só dat hy nooit weer geloop het nie (ja, sy ma-hulle was nie seker waar hy was nie). Koue winter plaas aande op die stoep met ons 'stoepsokkies' (Es se dikste sokkerkouse wat ons kon kry om ons voete warm te hou), en wyn om ons harte warm te hou - het baie vinnig gelei na vroeë oggend ure.


Die plaashuis se storie het ongelukkig tot 'n einde gekom toe Dina die landlord se hoenders geëet het en ons besef het ons bly saam met 'n vlermuis kolonie in die huis. Estian het vir hom handskoene en 'n pienk graaf aangeskaf om die vlermuise elke aand te verwyder, maar ons moes velemale 2uur die oggend Muller-huis toe in pajamas, saam met Dina, om verder daar te gaan slaap. Die vlermuise was duidelik daar om te bly en die Ferreira besluit toe om ons goed te vat en te trek.

​

In 2018 het Anli, met baie hulp van ons liefste familie en vriende, vir Es bederf met sy eerste trippie oor die see. Ons het onsself in Parys se grootste sneeuval in 'n dekade bevind: die einste stoepsokkies is toe skielik weer handig (of voetig, soos Es sal sê). Ons is ook een aand na 'n fêncy Franse restaurant waar ons slakke bestel het en moes onder die tafel Google hoe om dit te eet. Van daaraf het ons amper ons vlug Porto toe gemis, maar 'n vreemde oom het ons langs die pad in die sneeu optgetel en lughawe toe gejaag. Porto bly tot vandag toe een van ons gunstelinge.


Iewers langs die pad is ons weer terug na die Muller-huis om daar te bly. Mamazala (skoonma in Xhosa soos Ma-Antoinette ons geleer het), en Pa-Dawid het met ope arms en baie wyn ons baie vinnig laat tuis voel. Skielik stel ons weer laat aande in. Hierdie keer met saam kos maak, saam in die kombuis dans, en saam sing op die deck. Dina vind haar plekkie voor die warm stoof en in Pa-Dawid se hart. 


Es kuier in tussen by die Ferreira's. By Ma-Erica en Pa-Nico daag hy op by hulle deur met 'n bottel HPF Kaalvoet Meise en 'n bottel HPF Swartskaap. Hy vra of hy met hulle swartskaap-kaalvoet-meisie mag trou. Van daaraf is hy na Swaer-Divan en Suster-Karlien met 'n bottel HPF Kleinboet om daar te vra of hy die nuwe 'kleinboet' mag wees. 'n Paar dae later verras Es almal met 'n verlowingspartytjie by die einste Muller huis waar ons geleer was van dans en sing.


Ons eerste huisie in Plettenberg Straat (Es sê ons bly by die see), word gekoop en ons drie (dit is nou Anli, Es en Dina), vertrek soontoe om huis te maak. 'n Paar maande later is Ralf deel van die familie. Ons is nou vier.


Weens ongevraagde omstandighede moes ons ons drome vir eers laat wag, maar hier is ons nou en ons gaan TROU!


#MullerAsDieWildtuin

ONS STORIE: Our Story

©2020 by Muller as die Wildtuin. Proudly created with Wix.com

bottom of page